July 3, 2005 |
Nederduitse GereformeerdeTOETREDE VOTUM & SEËNGROET LOFSANG SAMEVATTING VAN DIE WET SKULDBELYDENIS EN VRYSPRAAK Ten spyte van al die tekens dat God ons liefhet en ons tot vernuwing in Christus uitdaag, bly ons steeds vasklem aan ons ou maniere van doen. Kom, laat ons nou ons skuld bely; nie alleen voor God nie, maar ook teenoor mekaar. U en ek lewe normaalweg 12,000 kilometer van mekaar. Ons leef in verskillende wêrelde. Ek het woorde gesoek waarmee ek namens ons almal vandag belydenis kan doen. As hierdie woorde ook u gevoelens weergee, dan pleit ek dat u nou soos volg in die hart saam met my sal belydenis doen. Here onse God, wanneer ons nie diegene wat van ons verskil as broeders en susters in Christus aanvaar nie, vergewe ons asseblief. Wanneer ons u wil teenstaan deur diegene te opponeer wat ons lewens omkrap en dit wat ons glo weerspreek, vergewe ons nou, o God. Wanneer ons u opsetlik ongehoorsaam is en nie meer glo dat die toekoms aan u behoort nie, vergewe ons, o God. Here! In genade herstel ons menslike gebrokenheid tot nuwe lewe. Maak tog u universele kerk, bestaande uit talle volke, stamme en nasies tot 'n eenheid deur die werking van u Heilige Gees. Gee ons die krag en oortuiging om met moed te getuig dat ons een in Jesus Christus is. Amen. Geliefdes in die Here, God se Gees stel ons in staat om weg te beweeg van die wee van die dood en die pad te kies na die weg van die lewe. Ons sondes is nou vergewe. Kom laat ons vanoggend ook mekaar opreg vergewe en ons harte vir mekaar oopmaak in die vreugdevolle gemeenskap van 'n lewende Christus. Amen LOFLIED VERDUIDELIKING EN GEBED Gemeente, my vrou Tienka ons kleindogter Delise en ek is opreg dankbaar vir al die gasvryheid en liefde wat ons sedert ons aankoms in Suid-Afrika en vanoggend hier ontvang het. Laat my asseblief 'n paar woorde van verduideliking toe! Hierdie erediens is vir sommige van ons hier 'n unieke en besondere geleentheid. Vyf en dertig jaar gelede het daar 'n hegte band tussen 'n paar katkisante en hulle leraar in die NG Gemeente Dagbreek in Welkom ontstaan. Dit het ontwikkel in 'n vriendskap en liefde wat nie deur tyd en afstand kon verflou nie - inteendeel, dit het net sterker, dieper en inniger geword. Tinnie, Nico, André, Johan ~ aan julle en julle gades, kinders en kleinkinders - baie dankie dat julle aangedring het en uit julle pad gegaan het om dit moontlik te maak dat ek vandag hier mag staan. Ons paaie het vir etlike dekades wyd uiteengeloop - van die bietjie wat ek hier van julle en julle dierbares gesien het, wil ek net se dat ek baie, baie trots op julle is. Wat myself aanbetref. Na dertien jaar diens as NG Predikant en Direkteur van TWR het ek verder gaan studeer in Amsterdam en was vir vyf jaar 'n Nederlandse dominee net buite Amsterdam. Sedert 1986 is ek predikant in Amerika. My huidige gemeente is Cocoa Beach Community Church en die area wat ek bedien sluit ook die Kennedy Space Center en Cape Canaveral in. Op 'n vergadering van my kerkraad twee weke gelede het ek genoem dat ek verwag om vandag in Suid-Afrika te wees en vir die eerste keer in meer as twintig jaar weer in Afrikaans te preek. Daar is 'n besluit geneem en ek is gevra om ons gemeente daar aan die Ruimtekus van Amerika se opregte groete aan die gemeente in Gravelotte oor te dra. Dit is my voorreg om dit nou te mag doen! Maar dit is NIE die eintlike doel van hierdie of enige ander erediens nie. Mag dit wees dat die gees van God vandag kennelik in ons midde aangevoel sal word. Kom, voor die skriflesing, laat ons saam bid: (stilte en voorbede) Here, onse God, ons weet dat niks voor u verborge is nie. U ken ons van binne en van buite. Daarom soek ons nie nou na vroom woorde of slim sêgoed nie. Ons is mense met uiteenlopende geaardhede en behoeftes. Wanneer ons bid kan een mens nie werklik namens almal praat nie. Ons dank u dat u nie van mense woorde afhanklik is nie, maar dat u dieper sien en beter verstaan as selfs hulle wat die naaste aan ons is. Wil daarom, deur die werking van u Heilige Gees van sitplek tot sitplek gaan. Besoek ons Here, met vertroosting, met liefde, met woorde wat vertel van verlossing vergiffenis en versoening. Soos u vroegste volgelinge vra ons dat u Gees ook nou ons lewens sal raak en dat u ons swak geloof sal versterk. Hervorm alles wat hard en verstar in ons geraak het en wek ons tot nuwe lewe en 'n nuwe toewyding aan u en u koninkryk op aarde. Ons pleit om vergiffenis en verandering van al die menslike mure wat ons tussen ons opgebou het sodat daar onnodige afstand tussen so baie van ons gekom het. Ons het misluk om u wêreld en u skepping te behou, te versterk en te bewaar. Ons dank U dat ons altyd, selfs vandag, 'n nuwe begin kan maak in die vaste oortuiging dat die toekoms wat u vir ons bedoel het in Christus bereikbaar is. Wil deur U gees u mense oor die aarde heen saam bind en leer ons Here, afgesien van kleur, geaardheid of afkoms om U vrede en saambindende krag te soek. Maak ons werktuie van versoening hier onder mekaar en leer ons om met mekaar fees te vier en bande van liefde en begrip te bind. Leer ons drome droom en gesigte sien van 'n wêreld waar God self by ons kom bly. Kom nou Heer, open U woord en was ons diep onrein gemoed, ja was dit skoon in Jesus bloed! Amen. SKRIFLESING Jeremia 38: 1-6 Hebreërs 12:1-6 Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die begin en voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterhand van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle 'n stryd teen lewe of dood geword het nie. Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind,moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aangeneem het." PREDIKING Dit is in tye van krisis, verlies en onsekerheid dat meeste mense ontdek wie hulle regtig is. Sommige ontdek in hulle self 'n optimisme wat niks kan onderkry nie, wat altyd nuwe horisonne, uitdagings en nuwe geleenthede soek. Ander weer ontdek diep binne in hulleself 'n pessimisme wat altyd die ergste en slegste verwag en wat sommer gou wegsink in die modder van die lewe en maklik moed opgee met hulpelose miserabel - geit. Kom ons doen vinnig so 'n bietjie self diagnose. Ek wil 'n vraag vra, maar jy hoef nie hardop te antwoord nie. Is jy 'n optimis of 'n pessimis? Maar wag so 'n bietjie, ek het nie gesê dat dit verkeerd of sleg is om 'n pessimis te wees nie. Laat ons so daaraan dink. Ons ou wêreld het beide optimiste en pessimiste nodig. Die optimis ontwikkel die vliegtuig wat tot groot hoogtes kan styg terwyl die pessimis valskerms ontwikkel waarmee die optimiste veilig na moederaarde kan terugkeer. Mens kan nou wel ligweg praat van optimisme en pessimisme, maar die ontsettende en tragiese waarheid is dat die ou wêreld waarin ons lewe oënskynlik gevul is met ontmoedigde en negatiewe mense. Depressie en wanhoop is aan die orde van die dag. Ek weet nie van hier by julle in Suid-Afrika nie, maar luister net na wat die jongste statistieke in Amerika: Verlede jaar het meer as 40,000 Amerikaners selfmoord gepleeg; 'n verdere 132,353 persone is in die hospitaal opgeneem na 'n poging tot selfmoord; 'n verdere 116,639 moes mediese behandeling na 'n selfmoord poging kry. Meer as 288 000 mense - en dit is maar net 'n klein persentasie van die wanhopiges wat tot daardie uiterstes gaan. Ontelbare ander is besig om hulleself stadigaan dood te maak op ander maniere; - ooreet; oorwerk; alkohol; dwelms of een of ander vorm van verslawing. "Moet nie geestelik moeg word en uitsak nie," skrywe Paulus aan die Hebreërs. Wel, dit is makliker gesê as gedoen. Selfs 'n Bybelse reus, soos die profeet Jeremia het geweet wat dit beteken om moedeloos te raak en te oorweeg om maar liewers moed op te gee. Sien, sy eie mense het sy prediking verwerp en hom in 'n put gegooi. Daar was wel geen water in die put nie, maar daar was 'n dik laag modder onder in die put. Die Bybel se: "hy het in die modder ingesak." Die goeie nuus is dat Jeremia nie in die modder van daardie laagtepunt in sy lewe bly le het nie. Op een of ander wyse het hy weer opgestaan, uit die put geklim, verder sy goddelike boodskap gebring, sy doelwit bereik en sy aardse lewe suksesvol voltooi. Hy het die goeie stryd gestry, die wedloop voleindig en sy geloof behou. Ek onthou tye in my lewe dat ek ook weggesink het soos Jeremia in die modder van die lewe. Het dit met jou ook al gebeur? "Moet nie geestelik moeg word en uitsak nie," skrywe Paulus. Hy kon praat! Paulus het in sy lewe skipbreuk gely; was telkemale in 'n wrede tronk; was met stokke stukkend geslaan; en het op elke denkbare wyse marteling ondergaan - maar hy het nooit, nie eers vir 'n oomblik, moed opgegee en in die modder weggesak nie. Mismoedigheid en moedeloosheid is die gevaarlikste wapen wat ons bedreig. Indien ons as Christene slegs met ons mislukkings besig bly, is die stryd vir goed verlore. Dan het ons nie langer 'n boodskap vir hierdie wêreld nie; dan het dit tyd geword om ons kerkdeure te sluit; dan sal ons geprekery die mense aan die slaap sus. Ons sang en musiek sal soos dodemarse klink en mense sal met hulle voete stem en elders gaan soek vir woorde van krag, lewe, hoop, vreugde en bemoediging. Weet u dat selfs die beste mense depressief kan raak? Dit gebeur omdat hulle nie weet wat om met hulle innerlike woede te doen nie. Hulle wil nie optree en terugveg teen mense wat hulle beledig of seermaak nie, daarom keer hulle, hulle woede diep binne in hulle self en dra dit soos 'n rou seer rond. Sielkundiges vertel ons dat sulke ingehoue aggressie ernstige gesondheidsprobleme meebring. Dit veroorsaak hoe bloeddruk, maagswere; en selfs sekere vorms van kanker. Dierbare, goeie mense is selfs meer as andere onderhewig aan moedeloosheid en depressie omdat hulle WERKLIK omgee. Jeremia het regtig omgegee vir sy mense. Geen wonder dat hy desperaat was oor die boodskap van God wat hy moes bring nie. Indien jy en ek werklik omgee vir ons medemens en vir dinge wat goed, reg en duursaam is, dan gaan daar tye in ons lewe kom waar ons moedeloos en teleurgesteld gaan raak. Juis dan is dit belangrik om nie so diep in die modder weg te sak dat ons nie meer daar kan uitkom nie. Die sleutel en geheim om depressie te oorkom is om aan te hou met aanhou. Dit is om getrou te wees tot die dood toe. Dit is om met volharding die resies te hardloop en die lewenswedloop te voltooi. Die Bybel stel dit so: "laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die begin en voleinder van die geloof." Sedert ons aankoms hier in ons geboorteland het ek opnuut besef met watter geweldige uitdagings u hier mee te kampe het. Se my, Watter verskil maak u geloof in 'n lewende Christus daagliks in u lewe? Om die oog te vestig op Jesus beteken vir geen sekonde om in 'n sieklik sentimentele houding met vroom woorde en slim slagspreuke te verval nie. Inteendeel, ware geloof is 'n bron van innerlike krag. My vriend, wanneer jy in die modder van die lewe begin wegsak; wanneer die lewenstorms woedend om jou slaan; wanneer jy met onverwerkte pyn en smart in jou hart rondloop; wanneer jy voel dat jy elke toets in die lewe gefaal het en nie meer die naam van Christen waardig is nie - het dit tyd geword om opnuut, of miskien vir die eerste maal opnuut na die leer en boodskap van Jesus Christus te kyk. Met Jesus Christus as saligmaker,
Daar is 'n storie wat my uit elke modderput haal en my voete weer op 'n rots plaas. Dit gaan oor 'n klein seuntjie wat met kaal voete in 'n plattelandse omgewing rondloop. 'n Motor kom aan en hou langs hom stil. Die arme man is hopeloos verdwaal. Kleinboet, kan jy my vertel waar Fairview is? Nee oom, ek weet nie! O, weet jy dan miskien waar die kruising van roete 73 en die pad na Upington is? Nee oom, ek weet nie! Vraag na vraag word op dieselfde manier beantwoord: Nee oom, ek weet nie! Eintlik verloor die man sy geduld en skree vir die kind: Jou klein onnosel! Dit lyk my jy weet heeltemal niks. Kleinboet kyk hom vierkantig in die oe en se: Oom, ek weet darem een ding. Ek weet dat EK nie die een is wat verdwaal het nie! [Wat ook al u pyn; omstandighede kruis wat u dra. Sorg dat u nie moedeloos word en diep in die modder wegsak nie. Voltooi die wedloop! Hou jou oog gevestig op die Een wat die bron is van lewe; krag en hoop. Jou geloof sal jou help om weer uit die diep put gehaal te word. Vriend, voltooi die reis - word weer 'n wenner. Jesus se: "Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin! Dit maak nie saak hoe groot die drukking op jou lewe is nie. Dit maak wel saak waar die drukking le. Vriend, vriendin, maak seker dat die drukking nooit tussen jou en jou God kom nie. Laat die drukking in jou lewe jou net vaster en vaster teen die hart van God vasdruk.
O, om te kan se: Ek weet verseker dat ek nie verlore is nie! DANKGEBED OFFERGAWES SLOTSANG GAAN DAN: * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * * |